Trok tref ses motors in PTA

Argieffoto

Argieffoto

ʼn Vragmotor van 50 ton het Donderdag ses voertuie in Moreletapark, Pretoria, getref nadat die bestuurder glo teen ʼn afdraande beheer oor die voertuig verloor het.

Vanessa Jackson, ʼn woordvoerder van ER24, sê die ongeluk het in Solomon Mahlanguweg (Hans Strydomrylaan) naby die Garsfonteinwegkruising plaasgevind.

“Die bestuurder kon nie betyds tot stilstand kom nie. Hy het sy bes probeer om uit te swaai om ʼn botsing te vermy, maar het ses voertuie getref voor hy die pad kon verlaat,” het Jackson gesê.

Die trok is deur ʼn veld, twee mure en het ook twee groot wilgerbome omgery, voordat dit in die Moreletaspruit tot stilstand gekom het.

“Die 46-jarige bestuurder was in die kajuit van die swaarvoertuig vasgekeer en moes uit die wrak gesny word. Hy is na sowat 90 minute bevry en is vir verskeie beserings behandel. Hy is met ʼn ambulans na die Muelmed Mediclinic geneem vir verdere behandeling.”

Volgens Jackson het die swaarvoertuig die ander ses voertuie slegs gering beskadig en niemand anders is in die ongeluk beseer nie.

Die polisie ondersoek die oorsaak van die ongeluk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Amy ·

Wat is geringe skade??? Selfs net ‘n klein duik in jou motor is baie skade. Of is hul ‘bumpers’ net liggies ingeduik????

Griet ·

Nog ‘n ongeluk by die “berugte” Hans Strydomrylaan/Garsfonteinweg kruising. Dit gaan al jare so aan……ten minste 3 – 4 Vragmotor ongelukke per jaar op daardie pad. Sommiges nie so “lig” nie, verskei lewens is al daar voortydig be-eindig.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.