Tshwane-metro sê wit man se aanbeveling vir pos is ‘onreëlmatig’

Dirk Groenewald, hoof van Solidariteit se Sentrum vir Billike Arbeidspraktyke

Dirk Groenewald, hoof van Solidariteit se Sentrum vir Billike Arbeidspraktyke

Die Tshwane-metro weier om inligting aan ʼn Solidariteit-lid te verskaf oor hoekom hy nie in ʼn pos waarvoor hy aansoek gedoen het en waarvoor hy glo aanbeveel is, aangestel is nie.

Die vakbond sê Jan Pretorius het aansoek gedoen vir die pos van voorman in die metro se departement van water en sanitasie, waar hy reeds sedert 1999 werk. In ʼn brief sê die metro dat wit mense nie veronderstel was om vir die pos te kon aansoek doen nie en dat die onderhoudspaneel desnieteenstaande ʼn wit man vir die pos aanbeveel het, wat “onreëlmatig” was.

Dirk Groenewald, hoof van Solidariteit se Sentrum vir Billike Arbeidspraktyke, sê Pretorius het ʼn grief ingedien om inligting oor wie vir die pos aanbeveel is, te probeer bekom. “Ons het ook verskeie skrywes aan die metro gerig en versoek dat die nodige inligting aan Pretorius verskaf word en dat sy grief opgelos word. Dit is egter duidelik dat die metro met opset inligting van Pretorius weerhou. Ons het die metro versoek om teen Vrydag die aanbeveling van die onderhoudspaneel aan ons te verskaf, andersins sal ons met regsaksie voortgaan.”

Groenewald sê Pretorius het vir die pos aansoek gedoen en is in Maart verlede jaar vir ʼn onderhoud genooi. “Hy het egter geen terugvoer ontvang nie en later gesien die pos word weer geadverteer. Pretorius het ʼn grief ingedien en die metro versoek om inligting te verskaf oor wie vir die pos aanbeveel is. Die metro het hom egter laat weet dat hulle nie inligting hieroor beskikbaar kan maak nie. Pretorius is in Oktober verlede jaar meegedeel dat wit mense nie veronderstel was om vir die pos aansoek te doen nie, maar dat ʼn wit man wel as die beste kandidaat aanbeveel is. Die pos is vir ʼn swart vrou gereserveer. Lede van die onderhoudspaneel was teenwoordig ten tyde van die bekentenis aan Pretorius, maar het geweier om te bevestig of te ontken dat hy aanbeveel is vir die pos. Pretorius is Dinsdag meegedeel dat die saak steeds onopgelos is.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Anita ·

Die pos is verkeerd geadverteer. Dit moes nie voorman gewees het nie, maar voorvrou. ‘n BEE voorvrou. Dan sou daar geen misverstande gewees het nie.

alet ·

Mr Pretorius jy dink te vinnig vir hulle n mens moet 20jaar neem om iets vir hulle te wys dan kan hulle nog nie verstaan wat jy bedoel hulle soek geld as jy die pos kry is daar te min om te steel hahahaahahaha

Luke ·

Hulle kan dit noem wat hulle wil maar dit skree van appartheid en ras haad. Om werk in SA te kry moet jy gaan vir vel kleur verandering en jou naam en van verander na jacob Malema of so iets.

Johan ·

Ek was in n soortgelyke situasie,maar is darem dmv Solidariteit en ons Hemelse Vader se hulp uiteindelik in die pos aangestel.Sterkte Jan,dis maar sleg as daar teen jou gediskrimineer word agv jou velkleur!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.