Tshwane-metropolisie betoog teen nuwe skofte

Argieffoto: tshwane.gov.za

Beamptes van die Tshwane-metropolisie het Woensdag op Werkersdag betoog teen ʼn nuwe skofstelsel.

Die stelsel word elke vyf jaar hersien en die nuwe stelsel is op 1 Mei in werking gestel, het die Pretoria News Donderdag berig. “Ons moet die behoeftes van die gemeenskap in ag neem as ons die nuwe tydgleuwe vir skofte in ag neem,” het Steven Ngobeni, die metropolisiehoof, gesê.

Die vorige skofstelsel het twee 12-uur skofte behels wat om 06:15 en 18:15 intree.

“Dit het beteken dat ons in spitstye tussen 05:00 en 07:00 en 17:00 en 19:00 min lede aan diens het, juis wanneer ons hulle die nodigste het,” het hy gesê.

Die metropolisie se nuwe stelsel behels drie agt uurlange skofte van 05:00 tot 13:00, 13:00 tot 21:00 en 21:00 tot 05:00.

Die betogers het by die Tshwane-metropolisie se hoofkantoor saamgedrom.

– Sapa

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.