Tsoenami-waarskuwing ná aardbewing

Die Amerikaanse Geological Survey (USGS) het ʼn Tsoenami-waarskuwing uitgereik vir kusgebiede in die Indiese Oseaan na ʼn aardbewing aan die kus van Soematra wat 8.7 op die Richterskaal gemeet het.

“Aardbewings van die grootte het die potensiaal om ʼn tsoenami te veroorsaak wat wydverspreide vernietiging tot gevolg kan hê,” het die USGS in ʼn verklaring gesê. Die aardbewing het omstreeks 10:38 Suid-Afrikaanse tyd plaasgevind op ʼn diepte van sowat 33 kilometer. Die USGS sê daar is nog nie vasgestel of die aardbewing ʼn vloedgolf veroorsaak het nie. Die tsoenami-waarskuwing is in 28 lande uitgereik. Die lande wat deur die tsoenami geraak kan word sluit in Indonesië, Indië, Sri Lanka, Australië, Mianmar, Thailand, Maledive, Verenigde Koninkryk, Maleisië, Mauritius, Réunion, Seychelle, Pakistan, Somalië, Oman, Madagaskar, Iran, die Verenigde Arabiese Emirate, Jemen, Comore, Bangladesj, Tanzanië, Mosambiek, Kenia, Crozet-eilande, Kerguelen-eiland, Suid-Afrika en Singapoer. Die aardbewing het 431 km van die Indonesiese stad van Banda Aceh af plaasgevind.

In Desember 2004 het ʼn aardbewing aan die kus van Soematra wat 9.2 op die Richterskaal gemeet het, ʼn reuse tsoenami tot gevolg gehad en is minstens 220 000 mense dood. Die middelpunt van vandag se aardbewing is glo naby aan waar 2004 s’n was. Verlede jaar het ʼn aardbewing wat 9 op die Richterskaal gemeet het, ʼn tsoenami veroorsaak aan die kus van Japan en is minstens 19 000 mense dood.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.