Tsvangirai waarsku Mugabe om nie stemme te “steel” nie

Morgan Tsvangirai

Morgan Tsvangirai, eerste minister van Zimbabwe, het Saterdag president Robert Mugabe gewaarsku om nie stemme tydens volgende week se verkiesing te “steel” nie, sodat sy veteraan mededinger die amp “met waardigheid” kan verlaat.

“Mugabe het in 2002 die verkiesing gesteel, en hy het die verkiesing in 2008 gesteel. Ek wil hierdie keer vir hom sê dat hy dit nie weer gaan steel nie,” het Tsvangirai aan sy duisende ondersteuners gesê. “As ‘n party het ons geen bedoeling om wraak te neem nie. Wat ons wil hê en wat ons sê is dat Mugabe dié verkiesing vry en regverdig moet uitvoer sodat hy met waardigheid die amp kan verlaat.”

Mugabe staan al vir 33 jaar lank in beheer van die land en ‘n vier jaar onstabiele koalisie is afgedwing ná ‘n chaotiese verkiesing in 2008. Waarnemers het twee vorige verkiesings as onregverdig verklaar.

Tsvangirai het ‘n ongeorganiseerde spesiale vroeë verkiesing en die afwesigheid van ‘n verkiesingsrol gekritiseer. “Ek het drie dae voor die verkiesing nog steeds nie die verkiesingsrol ontvang nie,” het hy gesê. Dit is glo ‘n skuiwergat om moontlik met die verkiesing te knoei.

Hy het die verkiesingskommissie in Zimbabwe ook daarvan beskuldig dat hulle 8 miljoen stembriewe gedruk het, alhoewel daar slegs 6.2 miljoen kiesers geregistreer is. “Ek sê dit voor al die waarnemers,” het hy gesê.

‘n Spesiale verkiesing is op 14 en 15 Julie gehou vir polisiebeamptes en soldate wat tydens die nasionale verkiesing diens moet doen. Talle stembusse het egter nie stembriewe gehad nie en duisende kon nie hul stem uitbring nie.

Die land se konstitusionele hof het Vrydag bepaal dat die duisende beamptes, wat weens die ongeorganiseerde spesiale stem nie hul stem kon uitbring nie, dit tydens die nasionale verkiesing sal kan doen.

Tsvangirai voer aan sy Movement for Democratic Change (MDC)-party het ook bevind dat sommige van die stembriewe later weggegooi is. “Julle [ZEC] kon nie eers die spesiale stem van 70 000 mense hanteer nie. Hoe gaan julle 6.2 miljoen kiesers binne een dag hanteer?”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.