Tukkie-student sterk aan ná aanval

Rainier Horak (18), ‘n student aan die Universiteit van Pretoria (Tuks), sterk aan nadat hy Maandagmiddag in Kempton Park wreed deur vier mans aangerand en beroof is.

“Ons kan die Here nie genoeg bedank dat ons seun lewe nie,” het Carel de Nysschen, Horak se pa, gesê. Horak is Donderdagmiddag uit die Arwyp-hospitaal ontslaan waar hy sedert Maandagmiddag behandeling ontvang het.

Horak, wat ook ʼn kranige atleet is, pendel elke dag na Pretoria waar hy ’n eerstejaar B.Com-dagstudent is. Hy het Maandagmiddag oudergewoonte by Hoërskool Kempton Park middelafstande gaan oefen en moes daarna na sy huis in Van Riebeeckpark draf nadat ʼn saamrygeleentheid nie uitgewerk het nie.

“Hy het kortpad deur ʼn veld geneem en is naby ʼn treinspoor deur vier mans oorval,” het sy pa Vrydag aan Maroela Media gesê.

Een van die mans het hom van agter af geduik waarna hulle hom geskop en geslaan het. Hy is ook met ʼn skerp voorwerp in sy linkerbeen gesteek.

“Hulle het sy voete met sy skoenveters vasgebind, sy oefenhemp afgeskeur en sy hande agter sy rug vasgebind. Hulle het sy sportsak met nuwe spykerskoene, oefenskoene, twee selfone en sy beursie gesteel,” het De Nysschen gesê. Hy sê dit is slegs genade van die Here dat hul hom nie erger leed aangedoen het nie.

Horak het op ʼn manier sy voete losgekry en met sy hande agter sy rug bebloed huis toe gestrompel. Hy is na die hospitaal geneem waar ’n breinskandering gedoen is. “Gelukkig is daar geen bloeding op die brein nie, maar wel ’n skedelbreuk. Hy moes meer as 20 steke aan die drie kopwonde kry en sy gesig was erg geswel,” het De Nysschen bygevoeg.

Die Kempton Park-polisie ondersoek die voorval. Maroela Media wag nog vir terugvoer van die stasie se woordvoerder oor vordering in die saak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

mina ·

dit maak n mens woedend die skelms word natuurlik nooit gevang nie sit klaar en wag vir hulle volgende prooi die gemors

karlientjie ·

Gaan daar ooit n haan kraai na dke voorval of is dit ook net n berig om die publiek v net nog n statistiek in te lig?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.