Tukkies-honneursgraadstudent vermis

Ronald Patrick Uys

Ronald Patrick Uys

Ronald Patrick Uys, ʼn 27-jarige student aan die Universiteit van Pretoria (Tukkies), word sedert verlede Woensdag vermis.

“Ons het hom vir die laaste keer omstreeks 12:30 gesien toe hy ons kom besoek het op ons plaas Doornrandjie, naby Hartebeespoortdam,” het Lynden Uys, sy stiefma, Maandag aan Maroela Media gesê.

“Hy is besig met sy honneursgraad in elektroniese ingenieurswese en het vroeër die dag ʼn aanbieding gedoen, en hy het vir ons gesê dit het hom baie uitgeput. Hy het daarna na sy huis in Paulshof in Johannesburg vertrek.”

Volgens Lynden het Ronald se huismaats in Paulshof hulle Vrydag geskakel en gesê Ronald het sedert Woensdag nie daar opgedaag nie. Hulle het gesê dis ongewoon en dat hulle bekommerd is oor hom. Die Uys-egpaar het dadelik ʼn vermistepersoon-saak by die Sandton-polisiestasie aanhanging gemaak.

Ronald is vir die laaste keer gesien in ʼn swart langbroek, met swart skoene en ‘n donker hemp met wit strepies. Hy bestuur ʼn silwer Citroën C2 met die registrasienommer SFN 892 GP.

Hy sou moontlik deur Diepsloot, Dainfern en Fourways gery het om by sy huis uit te kom.

Mense wat weet waar hy hom mag bevind kan Ronald se pa, Patrick, by 083 377 1919, of Lynden by 078 211 3226 bel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae