Die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge (SAIRV) sê die rassistiese plakkaat wat onlangs by ʼn manskoshuis van die Universiteit van Pretoria (Tuks) opgesit is, is kommerwekkend.
Maroela Media het Vrydag berig die plakkaat, om klubhuiskomiteelede te werf, is in die Kiaat-manskoshuis opgeplak en versoek alle inwoners wat bereid is om kleinerige takies te verrig om aansoek te doen. Die kennisgewing versoek die aansoeker om onder andere die toilette en die klubhuis skoon te maak. Die laaste reël op die plakkaat lui egter, “Kandidate moet swart wees”. Prof. Ernst van Eck, koshuishoof by Kiaat, het aangevoer dat dit ‘n misverstand was. Hy het gesê die inwoners wou hul geledere diversifiseer. “Ons poog om klubhuiskomiteelede meer verteenwoordigend te maak van alle kulture. Wit mense sal die toilette saam met die swart aansoekers was,” het Van Eck gesê.
Tuks-bestuur het die plakkaat reeds afgehaal en aangedui dat hulle die voorval ondersoek. Hulle het gesê enige student wat skuldig bevind word aan diskriminasie of rassisme, sal gedissiplineer word.
Die SAIRV het intussen bekend gemaak dat die plakkaat wel rassisties voorkom, al was dit nie so bedoel nie. Hulle sê die universiteit het reg opgetree om ʼn ondersoek van stapel te stuur, en het gewaarsku dat jong Suid-Afrikaners verantwoording moet doen oor hul dade.
Daar is ‘n groot verskil tussen iets wat “rassisties voorkom” en iets wat “rassisties is”.
Die bewoording van die plakkaat getuig wel van groot onoordeelkundigheid.