TUT-kampusse sluit weens betogings

Uitsig oor die stad vanaf TUT se kampus in Pretoria-Wes

Die bestuur van die Tshwane Universiteit van Tegnologie (TUT) het Donderdag verskeie kampusse gesluit weens gewelddadige protesaksie deur die studente.

Willa de Ruyter, woordvoerder vir TUT, sê studente van die Soshanguve, Ga-Rankuwa en Pretoria-Wes-kampusse moet tot verdere kennisgewing nie terugkeer na hul klasse nie. “Studente wat in koshuise bly moet Vrydag teen 07:00 ontruim wees,” het sy gesê.

Die betogings het Maandag begin en bestuur het Donderdag ‘n hofbevel bekom om verdere betogings te keer. Die kampusse is glo gesluit, aangesien bestuur bekommerd is oor die veiligheid van die studente en verdere eiendomsbeskadiging wou verhoed. Bestuur is reeds die afgelope paar dae in gesprekke gewikkel met studenteverteenwoordigers en ‘n memorandum van verstandhouding is Dinsdag deur beide partye onderteken.

“Ten spyte van eerlike en volhoubare pogings het die studente hul steeds tot klasboikotteen intimidasie gewend. Ingange na drie van die kampusse is versper en universiteitsake is ontwrig,” het De Ruyter gesê. “Studente en persone van buite, waarvan sommige onder die invloed van alkohol was, het klippe en petrolbomme na geboue gegooi. Beduidende skade is aangerig,” het prof. Nthabisen Ogude, vise-kansellier gesê.
Die studente betoog teen die toewysing van die Nasionale Studente Finansiële Hulpskema en die toestand van koshuise.

-SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.