TUT sluit deure ná studente betoog

Betogers buite TUT se hoofhek. Foto: Nomusa Khanyi / Twitter

Betogers buite TUT se hoofhek. Foto: Nomusa Khanyi / Twitter

Klasse by die Tshwane Universiteit vir Tegnologie (TUT) in Pretoria moes Woensdag opgeskort word nadat sommige studente daar begin betoog het.

“Die ANC-geaffilieerde studente-organisasie, Sasco, het begin betoog teen die nasionale studentefinansieringshulpskema (NSFAS),” het Willa de Ruyter, TUT se woordvoerder, gesê. “Die aanvraag na geld is groter as wat beskikbaar is vir befondsing.”

Sy het gesê die Pretoria-kampus in die weste van die stad is ontwrig toe studente bande buite die kampus se hekke aan die brand gesteek het. TUT se bestuur het besluit om hul hekke te sluit en hul personeel huis toe te stuur.

“Studente wat steeds moet registreer kan gebruik maak van TUT se aanlyn-registrasiesisteem,” het De Ruyter gesê.

Sigfried Tivana, sekretaris-generaal van die Verteenwoordigende Studenteraad, het gesê die studente het besluit om te betoog omdat hulle gefrustreerd is. “Die universiteit se reuse uitsluiting van arm Afrika-werkersklasstudente, het ons geen ander keuse gelaat as om met massa optredes te begin nie,” het Tivana gesê.

Die studente eis toegang tot NSFAS vir alle studente wat vir finansiering kwalifiseer en dit verdien.

Hulle dring ook aan op die beëindiging van “rassisme in Afrikaner -gedomineerde fakulteite”; hertoelating van alle studente wat akademies uitgesluit is, die voorsiening vir voldoende huisvesting en dat die salarisse van alle senior bestuurders en direkteure verminder word.

“Ons sal alle bedrywighede by die kampus tot ʼn stilstand bring totdat daar aan al ons vereistes voldoen word. Enige poging om ons teen te staan kan erge teenkanting van die studente te wagte wees,” het Tivana gesê. -SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.