TUT sluit deure onbepaald, JHB-studente betoog

Betogers Donderdag buite TUT se hoofhek. Foto: Nomusa Khanyi, Twitter

Betogers Woensdag buite TUT se hoofhek. Foto: Nomusa Khanyi, Twitter

Die Tshwane Universiteit vir Tegnologie (TUT) moes Vrydag weer hul hekke sluit weens studentebetogings. Studente in Johannesburg betoog ook.

TUT het Vrydag studente en personeel van al hul kampusse in Pretoria ontruim en gesê die universiteit sal gesluit wees tot verdere kennisgewing. Die universiteit het Donderdag gesê alle klasse en lesings is opgeskort weens stakende studente wat gewelddadig geraak en bande buite die hoofkampus in die weste van Pretoria aan die brand gesteek het.

Nzimande het Donderdag ʼn beroep op die studente gedoen om te kalmeer ná ʼn vlaag betogings by kampusse regoor die land deur studente wat ontevrede is met die nasionale studentefinansieringshulpskema (NSFAS). Die aanvraag na finansieringhulp is groter as wat beskikbaar is vir befondsing. Nzimande het ook gesê daar was ʼn tekort van R2.6 miljard in 2013 en dat die NSFAS se begroting met R1 miljard vermeerder gaan word.

Intussen het betogende studente van die Universiteit van Johannesburg (UJ) gure weer aangedurf en van 08:00 af by die universiteit begin saamdrom. “Ons betoog omdat ons talle kwessies het wat aangespreek moet word,” het Enerst Hasha, die woordvoerder van Students for Justice, gesê. “Een van die kwessies is die allokasie van NSFAS-befondsing by die universiteit.”

Volgens Hasha is Students for Justice ʼn organisasie by UJ en hulle het glo talle professionele lede uit verskeie velde.

Die studente dring ook daarop aan dat die registrasieproses verleng word sodat studente wat vir NSFAS-befondsing kwalifiseer, geakkommodeer kan word as NSFAS sy begroting vermeerder. “Registrasie sluit vandag (Vrydag) en ons het sover geen terugvoer van die universiteit gekry oor wat met studente gaan gebeur, wat weens NSFAS se tekortkominge nie kon registreer nie, al het hulle vir befondsing gekwalifiseer. Ons verwelkom egter die minister se aankondiging dat die begroting vermeerder gaan word.”

Altesaam 20 studente en ʼn paar ongeregistreerdde studente is Maandag by die universiteit geskors nadat hulle daar betoog het. Die betoging was gewelddadig en deelnemers het mense geïntimideer en administratiewe take by die universiteit ontwrig.

Hasha het gesê die betrokke studente se skorsings moet opgehef word sodat hulle kan fokus op 2014 se akademiese jaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.