Tutu in Nederland vereer

Tutu word Kommandeur van die Orde van Oranje-Nassau. ANP

Emeritus Aartsbiskop Desmond Tutu het ‘n eredoktorsgraad in teologie aan die Rijksuniversiteit Groningen ontvang.

Dit volg slegs enkele dae nadat Tutu deur die Nederlandse koningin tot Kommandeur van die Orde van Oranje-Nassau benoem is. Kommandeur is die derde hoogste uit ses graderings waarvoor die orde voorsiening maak. Die orde dateer uit 1892. Die seremonie is deur die koningin se kommissaris in Overijsel, Ank Beyleveld behartig.

Sedert 1996 is die toekenning van die orde losgemaak van die ontvanger se status, en word die toekenning suiwer op meriete gedoen.

Met beide toekennings is Tutu vereer vir sy rol in die Waarheids- en Versoeningskommissie. Met die eredoktorsgraad word hy bykomende vereer vir sy bydrae tot gesondheidsorg in Suid-Afrika.

Tutu word in Nederland hoog geag, en met sy weeklange besoek aan Nederland word sy doen en late deur die media gevolg. Tot die feit dat hy die sokkerklub, Twente, besoek het, het die nuus gehaal. In een van die berigte word hy saam met Nelson Mandela as die grootste Suid-Afrikaners van alle tye beskryf.

Hy sal ook deelneem aan ‘n TV-program van een van sy gashere, College Tour.

Toe Tutu enkele maande gelede ‘n beroep op die Nederlandse regering gedoen het om nie sy ontwikkelingshulp te verminder nie, het dit wye nuusdekking in Nederland gekry. Suid-Afrika maak nogtans nie meer deel van die jongste lys van lande uit wat by Nederlandse ontwikkelingshulp baat nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.