TV-aanbieder se neef glo gekaap, dood gevind

ʼn Aanbieder van die aktualiteitsprogram, Carte Blanche, se neef het glo vroeg Sondagoggend uit ʼn bewegende motor gespring en gesterf nadat hy glo gekaap is.

Daily News berig dat Soomesham Govender (27) se liggaam, vyf ure nadat sy gesin hom as vermis aangegee het, in die Scottburgh-lykshuis gevind is. Hy is die neef van die Carte Blanche-aanbieder, Devi Sankaree Govender. Soomesham het glo Saterdagaand saam met vriende gekuier en omstreeks 1:30 Sondagoggend terug gery huis toe. Toe hy teen 7:00 Sondagoggend nog nie by die huis was nie, het sy gesin die polisie gekontak. ʼn Polisiewoordvoerder, Thulani Zwane, sê Soomesham se motor is in Isipingo gewaar en deur die polisie afgetrek. Zwane sê die bestuurder beweer hy het die motor by die vermeende kapers gekoop en dat hy nie by die kaping betrokke was nie. Soomesham se liggaam is langs die pad gevind. Zwane sê hulle ondersoek ook die moontlikheid dat hy uit sy motor gestamp is.

Sankaree Govender het voor haar neef se liggaam gevind is, op Facebook geskryf: “DIE IS ʼn BAIE DRINGENDE BOODSKAP! My neef Sumeshan Govender het gisteraand vermis geraak terwyl hy van Umzinto na Umkomaas gery het. Hy het ʼn blou Polo gery, registrasienommer: NX 952. Die motor is deur die polisie gevind – twee onbekende insittendes was in die motor. Sumeshan is nog nie eers 30 nie, lank en aantreklik. Help asseblief – ons is almal in ʼn toestand.”

Lees meer hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.