Twee aanvalle in twee dae in Zeerust

Sollie Botha

Sollie Botha

ʼn Bejaarde vrou is verkrag en ʼn boer geskiet tydens ʼn plaasaanval Maandag op ʼn plaas naby Zeerust. Dit volg skaars ʼn dag nadat ʼn afgetrede laerskoolhoof in sy huis in die dorp doodgeskiet en sy vrou aangerand is.

Sersant Kealeboga Molale, ʼn polisiewoordvoerder van Noordwes, het aan Maroela Media gesê Maandagaand se voorval het omstreeks 19:00 plaasgevind nadat twee aanvallers die egpaar in hul huis oorweldig het.

“ʼn Boer (68) is tydens die voorval in sy hand geskiet, hy het ook erge kopbeserings opgedoen nadat hy met ʼn flitslig aangerand is,” het Molale gesê.

Volgens Molale het een van die aanvallers die boer se vrou (72) verkrag voor hulle met van die huisgoedere gevlug het.

“Die man is in ʼn ernstige toestand na die Zeerust-hospitaal gehaas, waarna hy na die Peglarae-hospitaal in Rustenburg oorgeplaas is.”

Die polisie ondersoek ʼn saak van huisbraak en verkragting. Die twee verdagtes is nog nie in hegtenis geneem nie.

Maroela Media het Maandag berig Sollie Botha (71), ʼn oud-skoolhoof van Laerskool Zeerust, is Sondagoggend in die vroeë oggendure tydens ʼn huisrooftog doodgeskiet. Sersant Kelebogile Moiloa, ‘n polisiewoordvoerder, het Maandag aan Maroela Media gesê Botha en sy vrou is Sondagoggend omstreeks 01:00 deur vier mans in hul huis oorval en aangerand. Botha is in sy kop geskiet en sy vrou Elsa is vasgemaak op haar bed aangetref. Lees meer hier.

Volgens ʼn inwoner in die dorp is dit ongewoon dat soveel wrede aanvalle so kort na mekaar plaasvind. “Daar was wel onlangs ʼn plaasaanval in die gebied,” het Bianca Booysen gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Jasper ·

Ek het dit al gesê en sê dit weer. Ons Volk gaan nie van hierdie verderflike pes wat ons teister genees alvorens ons nie as Volk saamstaan en n dag van verootmoediging uitroep nie. As ons SY naam in nederigheid aanroep en al ons swakhede en sondes voor Hom bely sal HY ons aanhoor.
Vergeet net een dag van afsprake, deals doen, gym, werk, Bokke, Sharks, rentekoerse, wisselkoerse, agterstallige rekenings en 7de Laan
Ek het niks teen 10 Okt. se Rooiballonvedtog nie, dis dalk die begin van dinge. Maar dit alleenlik gaan ons nêrens bring nie.

Marthie van Vuuren ·

2 Kronieke 7 vers 14
As my volk, oor wie my Naam uitgeroep is,
hulle verootmoedig (1)
en bid (2)
en my aangesig soek (3)
en hulle bekeer’van hulle verkeerde wee (4)
DAN SAL EK uit die hemel hoor en
hulle sonde vergewe (1)
en hulle land genees (2)
Kan God dit nog duideliker stel ? Hy verwag dit van ons – veral vandag en veral in Suid Afrika
Wanneer gaan ons luister en dit DOEN ?!
Daar is sekerlik nog mense wat die gelofte van 16 Desember onthou – Is daar nie aan God belowe
dat AL DIE NAGESLAGTE die dag sal herdenk omdat God juis onderneem het toe die belofte
aan God gemaak is ?? Is dit nie duidelik in die Woord van God dat as daar ‘n gelofte aan die
Here gemaak is, dit onderhou MOET word nie ?? Hy is die God wat ons nooit “drop” nie –
hoekom “drop” ons Hom dan en wat verwag ons as ons Hom wel “drop” ?? Keer terug na God
toe Suid Afrika !!!!!!!!!!!!!!!!!! Hy wag al so lank en met ope arms !!!!!!!!!! Marthie van Vuuren

Tokkie ·

Ons het Sondag ‘n verootmoedigingsdag gehou, maar ongelukkig was dit nie vir my bevredigend nie – die diens was tog so polities korrek, en mag ons tog net nie op tone trap nie, want dan tree ons nie meer Christelik op nie.

Amy ·

@Marthie, ek stem. En ek dink ons mense ook nie meer Godvresend nie. Ons maak beloftes aan God, en ‘vergeet’ later daarvan.

Hoeveel ouers kom nog die doop-belofte na? Die kinders word gedoop, of ingeseën, en daarna sien nie ons of ons kinders weer die binnekant van ‘n kerk nie.

Nee, want ons het Saterdagaand te lekker partie gehou, en nou is ons te moeg om net ‘n uur in die Here se Huis te spandeer. Sondae is mos vir laat slaap .Ons praat soms met God asof hy ons ‘speelmaat’ is. Wat verwag ons dan?

Deon ·

Ek verstaan nie dat mense so maklik sê ons moet net bid en alles sal reg wees nie. Verstaan my mooi, niks fout met bid tot God nie, maar deur sulke stellings te maak insinueer die mense dus dat almal wat tot dusver vermoor is in hierdie land nie tot God gebid het nie????

Word wakker mense, ons is op aarde waar die satan in beheer is. God se plan vir ons is die ewige lewe – ons kan nie net aanvaar dis die antwoord nie, want ek is seker 99% van al die vermoorde boere en bejaardes in die land was getroue kinders van God. So hoe nou? Hoe laat Hy dan sulke goed toe? Miskien begin dit by iets anders, ek sê maar net….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.