Twee fietsryers is ernstig beseer nadat hulle Dinsdagoggend in KwaZulu-Natal in mekaar vasgery het.
Chris Botha, ʼn woordvoerder van Netcare911, sê ʼn man en ʼn vrou het in Kingswaystraat in Amanzimtoti gery. Die man het voor gery en beheer oor sy fiets verloor en geval. Die vrou kon nie betyds uitswaai nie en ook geval.
“Die man en vrou, albei in hulle dertigs, is langs die pad aangetref. Hulle het ernstige beserings opgedoen, maar is op die toneel gestabiliseer. Hulle is na die Netcare Kingsway-hospitaal geneem vir verdere behandeling,” het Botha gesê.