Twee beseer in komododraak-aanval

Twee mense is beseer nadat ʼn komododraak hulle Dinsdagmiddag aangeval het.

Die slagoffers was werkers by die Komodo Nasionale Park, ʼn wildreservaat op  ʼn eiland in Indonesië wat na dié bedreigde spesie omsien.

“ʼn 50-jarige veldwagter het by sy tafel gesit waar toeriste gewoonlik inteken toe die 2 meter lange dier in die kantoor ingesluip het,” het Heru Rudiharto, ʼn beampte van die park, Woensdag aan AFP gesê.

“Die man het die dier gesien en paniekerig op sy stoel gespring, maar die draak het hom vinnig gegryp en aan die been gebyt,” het Rudiharto gesê. Die veldwagter is in 2009 ook deur ʼn draak aangeval en is steeds deur die voorval getraumatiseerd.

“ʼn 35-jarige werker het die man hoor skreeu en gehardloop om hom te gaan help. Die dier het hom ook aangeval en aan die been gebyt.”

Albei werkers is in ʼn goeie toestand in die hospitaal en moes steke kry. “Hulle toestand word egter dopgehou om seker te maak dat hulle nie infeksie kry nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.