Die polisie is steeds op ʼn toneel by die Panorama Petroport op die N1-snelweg, noord van Pretoria naby Hammanskraal, waar drie bokse handgranate Woensdagoggend glo uit ʼn militêre voertuig gesteel is.
Die voertuig was van ʼn Denel-tak van Kaapstad onderweg na die Wallmansthal-weermagbasis. Volgens ‘n polisiebeampte op die toneel het die bestuurder en sy assistent omstreeks 05:00 by die vulstasie aangekom en besluit om te gaan slaap, aangesien hulle eers die aflewering 08:00 kon doen. Terwyl die mans in die voertuig geslaap het, het die diewe glo die drie bokse gesteel.
ʼn Betroubare bron het aan Maroela Media gesê een boks handgranate is reeds in ‘n veld gevind, maar die polisie is steeds op soek na die ander twee bokse. Sowat 70 handgranate word vermis. Die polisie se honde-eenheid is ingeroep.
Intussen het Denel aan EWN gesê die gesteelde toerusting is verligtingshandgranate en nie fragmentasiehandgranate nie.