Twee dood na mislukte kaping

Twee mans is Saterdagaand in Oranjesig in Bloemfontein in die Vrystaat doodgeskiet na ʼn mislukte kaping.

Kapt. Chaka Marope, woordvoerder van die polisie, sê die voorval het omstreeks 21:00 Saterdagaand in die parkeerarea voor die Overland-drankwinkel in Falckstraat plaasgevind. Marope sê ʼn 21-jarige man het glo van die drankwinkel af na sy motor geloop toe hy deur drie gewapende mans aangeval is. Die man is in die bors geskiet en is op die toneel dood verklaar. Marope sê die gewapende mans het hierna glo ʼn 30-jarige man aangeval waar hy in sy motor gesit het in ʼn straat naby die drankwinkel. “Die slagoffer het met die aanvallers gestoei na hulle hom uit sy motor gesleep het.” Hy is ook in die bors geskiet en is op die toneel dood verklaar. Marope sê die polisie vermoed dat die gewapende mans die slagoffers wou kaap. Polisielede het toevallig daar verbygery toe die moordenaars probeer ontsnap het waarna ʼn skietgeveg uitgebreek het. Hulle kon egter daarin slaag om te ontsnap. Die polisie ondersoek die saak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.