Twee dwelm-skelms vas; polisie bedank gemeenskap

daggaTwee van die mees gesoekte dwelmhandelaars van Pretoria is Donderdag in Hazelwood, Pretoria, in hegtenis geneem nadat dagga en gesmokkelde sigarette in hul besit gevind is.

Volgens kapt. Colette Weilbach, die polisiewoordvoerder van die Brooklyn-polisiestasie, is die mans onderskeidelik 47 en 53 jaar oud. “Die twee mans is van Soshanguve, noord van Pretoria. Hulle is omstreeks 12:30 in Pinasterstraat aangekeer,” het Weilbach gesê. “Die inwoners van Hazelwood het vir ʼn geruime tyd hul kommer uitgespreek weens ʼn toename in dwelmhandel in die woonbuurt. Die Brooklyn-polisiestasie, in samewerking met ander owerhede, het vir weke lank die gebied dopgehou en inligting versamel voordat die polisie op die mans toegeslaan het.”

Die polisie het beslag gelê 126.65 g dagga en bokse gesmokkelde sigarette. Altesaam 39 daggabome is naby die gebied gevind waar die mans handel gedryf het.

Die verdagtes gaan na verwagting Vrydag in die Hatfield-gemeenskapshof verskyn op dwelmverwante aanklagte.

“Die Brooklyn-polisie wil die inwoners bedank wat die polisie met die ondersoek gehelp het. Resultate is nie altyd vinnig nie, want ʼn saak moet behoorlik ondersoek word om te verseker dat daar genoeg bewyse is om ʼn sterk saak teen die oortreders te maak,” het sy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.