Twee in hof ná hulle skoolseun skiet

Sekuriteit is opgeskerp ná die skietvoorval by die skool Foto: Tracey Adams, Cape Argus (IOL)

Sekuriteit is opgeskerp ná die skietvoorval by die skool Foto: Tracey Adams, Cape Argus (IOL)

Twee tieners wat daarvan beskuldig word dat hulle Glenrico Martin, ‘n skolier van Kaapstad, vermoor het, het Vrydag hul eerste hofverskyning gemaak in die Wes-Kaapse hooggeregshof.

Die doel van dié voorverhoor-konferensie is om seker te maak dat daar nie enige tegniese haakplekke gaan wees wat die verrigtinge kan vertraag wanneer hofsake in die hooggeregshof begin nie.

Wilston Stoffels (18) en Jevon Snyman (19) het voor regter Robert Henney verskyn wat die saak tot 8 November uitgestel het wanneer hulle tydens ‘n tweede voorverhoor-konferensie sal verskyn. Hulle bly in aanhouding tot dan.

Russell Cloete, wat Legal Aid SA verteenwoordig, het aan die hof gesê dat ‘n regshulp-advokaat nog nie aangewys is om Stoffels te verteenwoordig nie. Hy sê Legal Aid SA se tak in die Wes-Kaap het “talle uitdagings” wat nog nie opgelos is nie. Hy sê kriminele sake is hangende in die hooggeregshof, almal met veelvoudige beskuldigdes wat elk regshulpverteenwoordiging benodig.

Hy sê die regshulpprobleme wat opgelos moet word, beïnvloed nie Snyman nie, aangesien hy deur ‘n provaatprokureur, William da Grass, verteenwoordig word.

Die twee het hul borgaansoeke laat vaar voordat die saak van die Wynberg-distrikshof in Kaapstad na die hooggeregshof verwys is.

Martin (18) is op Woensdag 15 Mei buite die Spes Bona Sekondêre Skool se hek in Athlone op die Kaapse Vlakte geskiet. Kapt. Frederick van Wyk, woordvoerder van die polisie, het in daardie stadium gesê drie mans met skoolsweetpakbaadjies aan, waarvan twee gewapen was, het Martin genader. Een van hulle het hom koelbloedig in die kop geskiet. Paramedici kon hom bykry en het met hom na die Groote Schuur-hospitaal gehaas waar hy net ná sy aankoms gesterf het.

Snyman is die volgende dag in Athlone aangekeer en Stoffels is die dag daarna in Bonteheuwel vasgetrek.

Lees ook:
Tiener by Kaapse hoërskool doodgeskiet

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.