Twee in hof wat met uraan betrap is

Argieffoto

Argieffoto

Twee mans, wat met onverrykte uraan betrap is, het Woensdag in die Durbanse landdroshof verskyn.

“Die waarde van die uraan, toe die mans in hegtenis geneem is, was R836,” het staatsaanklaer Sureka Marimuthoo aan die hof gesê.

Sibusiso Mkhize en Sasa Vulay is op 14 November by die Bluff in Durban in hegtenis geneem. Marimuthoo het gesê die polisiebeamptes het aanvanklik gedink die twee mans het dwelmmiddels in die houer wat die uraan trioksied bevat het, maar hulle was te bang om dit oop te maak.

Beamptes van die Suid-Afrikaanse Kernkragkorporasie het die houer oopgemaak en op ʼn kilogram uraan trioksied afgekom, maar geen dwelmmiddels nie.

Marimuthoo het aangedui die staat sal nie borgtog vir Mkhize teenstaan nie, aangesien ongeprosesseerde uraan trioksied min of geen bedreiging inhou nie en omdat daar geen dwelmmiddels betrokke was nie.

Die staat sal wel Vulay se aansoek om borgtog teenstaan, aangesien hy onwettig in die land was. Sy immigrasiepermit het reeds in April verval.

Vulay het nie aansoek gedoen om borgtog nie en hy bly in aanhouding.

Mkhize, ʼn pa van drie, is op borgtog van R2 000 vrygelaat op voorwaarde dat hy weekliks by die Manguzi-polisiestasie, in die noorde van KwaZulu-Natal, sal aanmeld.

Die saak is tot 29 Januarie uitgestel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.