Twee in hof na hulle glo man in polisiesel vermoor

Eben Meyer saam met sy verloofde, Sylvia Hamman. Foto: Facebook

Twee mans het Maandag in die Bellville landdroshof verskyn nadat hulle Eben Meyer (48) glo die naweek in ʼn polisiesel vermoor het.

ʼn Woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), Eric Ntabazalila, sê Daniel Dyosi en Sipho Mhlanga sal weer op 10 Mei in die hof verskyn wanneer hulle om borg sal aansoek doen. Dyosi en Mhlanga word daarvan beskuldig dat hulle Meyer Saterdagoggend in ʼn sel by die Durbanville-polisiestasie vermoor het nadat hy vroeër die oggend weens openbare dronkenskap in hegtenis geneem is. Hy het glo by die Stones-kroeg in Durbanville gekuier nadat hy en sy verloofde, Sylvia Hamman, glo ‘n rusie gehad het. Hy is volgens die polisie saam met agt ander mense wat ook onder die invloed was, in ’n sel aangehou. Meyer is glo omstreeks 01:30 deur twee mans in die selle aangerand. Hulle het hom na bewering herhaaldelik geskop en geslaan. ʼn Polisiewoordvoerder, lt. kol. Andre Traut, sê Meyer het aan sy beserings beswyk. Meyer laat drie dogters, Naomi (24), Sonika (22) en Inge (17) agter. Hy het ook ʼn kleinseun Marko (2).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.