Twee in hof oor pastoriemoorde

Ds. Willem Brits Foto: Facebook

Twee mans het Maandag in die hof verskyn in verband met die moorde op ds. Willem Brits van Harrismith en sy aanstaande skoonseun, Gerhardus Vermeulen.

Ds. Brits (60) en sy vrou Dorothea (59) is Donderdagaand in die pastorie glo met ‘n byl aangeval. Ds. Brits het Vrydagoggend aan sy wonde beswyk. Dorothea is ‘n kritieke, maar stabiele toestand in die Mediclinic in Bloemfontein. Vermeulen is tydens die voorval doodgeskiet.

Hul dogter, Thea, was tuis, maar is nie in die voorval beseer nie.

Adjudant-offisier Zweli Mohobeleli, ʼn polisiewoordvoerder, het Maandag aan Maroela Media gesê die egpaar se seun, Martin Brits (28), en Peet Eliot Mnhambi (41), het Maandagoggend in die Harrismith-landdroshof verskyn. Die saak is tot 19 November vir verdere ondersoek uitgestel. Die verdagtes sal tot dan in aanhouding bly. Hulle word aangekla van moord, poging tot moord, huisroof, en die onwettige besit van ‘n vuurwapen.

Volgens Mohobeleli is die rede vir die aanval nog nie bekend nie. Mohobeleli het ook aan Maroela Media bevestig dat die gerugte dat die egpaar se dogter Thea in verband met die voorval in hegtenis geneem is, vals is.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.