Twee mans is op die Mabopane-hoofweg in Pretoria in hegtenis geneem nadat hulle die spoedbeperking met meer as dubbel oorskry het.
ʼn Woordvoerder van die verkeersdepartement, Busaphi Nxumalo, sê die mans, een in ʼn Golf 6 GTI en die ander in ʼn Ford Focus ST, het albei teen 170km/h gery in ʼn 80km’h sone. “Die 31-jarige bestuurder van die Golf beweer dat hy ʼn mediese dokter is van die Sunnyside-kampus [Unisa] en dat hy reageer het op ʼn noodgeval. Dit kon egter nie bevestig word nie. Die 30-jarige bestuurder van die Ford ST, ‘n werknemer in die IT-bedryf, wou nie kommentaar lewer nie.” Die mans is albei in hegtenis geneem op aanklag van roekelose en nalatige bestuur. Hulle sal na verwagting Woensdag in die Pretoria landdroshof verskyn.