Twee jong kinders sterf

Twee jong kinders is die week in twee afsonderlike ongelukke op die N12-pad naby Potchefstroom dood.

Volgens Vanessa Jackson, ʼn woordvoerder van ER24, was albei gevalle enkelvoertuig-ongelukke waar die bestuurders beheer oor die voertuig verloor het.

“Maandagmiddag omstreeks 17:00 was paramedici van Potchefstroom op ʼn toneel waar ʼn gesin van vyf in ʼn bakkie gerol het. Die ouers het voor in die bakkie gesit en drie kinders agter onder die kap,” het Jackson gesê. ʼn 2-jarige seuntjie se liggaam is tydens die ongeluk uit die voertuig geslinger en het kritieke beserings opgedoen. Hy is na ʼn hospitaal in Klerksdorp geneem waar hy later aan sy beserings beswyk het. “Sy ouers en die ander twee kinders het geringe beserings opgedoen,” het Jackson gesê.

Woensdagoggend het ʼn bakkie omstreeks 07:00 ook op die pad gerol, sowat 22km buite Potchefstroom. “ʼn Pa, ma en 8 maandeoue baba het in die enkelkajuit-bakkie gery toe die botsing plaasgevind het. Paramadeci het die ma aangetref waar sy haar babatjie vashou en wieg. Ongelukkig is die babatjie op slag dood. Die ouers het matige beserings opgedoen en is na ʼn nabygeleë hospitaal geneem vir verdere behandeling,” het Jackson bygevoeg.

Volgens Jackson is dit nog nie bekend wat die ongelukke veroorsaak het nie. Die polisie ondersoek die voorvalle.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.