Twee vissermanne het Woensdagoggend in die see by Slangkop-lighuis in Kommetjie verdwyn.
“Die twee vermiste mans is glo deel van ʼn groep van vier vissermanne wie se bootenjin onklaar geraak het,” het Craig Lambinon, ʼn woordvoerder van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI), gesê. “Die boot het in die golflyn beland en die twee mans is oorboord geslinger.”
Die mans, albei van Houtbaai, het Woensdag tussen 05:00 en 06:00 verdwyn. Volgens Lambinon is dit nie duidelik waarom die voorval eers veel later aangemeld is nie.
Die NSRI in Houtbaai, NSRI in Kommetjie, ʼn reddingshelikopter en die polisie se duikeenheid neem deel aan die soektog.
Teen Woensdagmiddag was daar nog geen teken van die mans nie. Die voorval word ondersoek.