Twee lewenslank tronk toe vir verkragting van tronkbewaarder

ʼn Voormalige gevangene en sy vriend is Woensdag lewenslange tronkstraf opgelê in die Noord-Gautengse hooggeregshof in Pretoria vir die verkragting van ʼn tronkbewaarder.

Die tronkbewaarder, ʼn klein blonde vrou, is op 19 Augustus 2008 in haar huis op die Baviaanspoort-gevangenisterrein oorval, beroof en verkrag. Johannes Modise Monama (24), ʼn voormalige gevangene in dié tronk, en sy vriend Marebele Edward Sebetsho (31) is ʼn verdere 20 jaar tronkstraf opgelê vir roof. Monama en Sebetsho het haar om die beurt voor haar histeriese 4-jarige dogtertjie verkrag. Die vrou het vroeër getuig dat sy hulle gesmeek het om haar nie te verkrag nie. Die vrou het beserings aan haar nek en lyf opgedoen en was ʼn week in die hospitaal na die aanval. Drie jaar na die voorval word sy steeds deur ʼn psigiater en ʼn sielkundige behandel. Die regter het vroeër Monama se bewering dat hy en die vrou in ʼn verhouding was en “gemeenskaplike seks” gehad het verwerp. Die vrou het haar vuis in die lig gesit en gejuig toe die regter haar verkragters gevonnis het. Sy het buite die hof aan versalggewers gesê sy gaan voort met haar siviele eis teen die departement van korrektiewe dienste. Die eis sal volgende week in die Noord-Gautengse hooggeregshof aangehoor word. Die vrou en haar dogtertjie het intussen na Middelburg verhuis om naby haar ouers te wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.