Twee onderskeidings vir ‘wonderwerk’ Wian

Wian Badenhorst het matriek met twee onderskeidings voltooi. (Foto: Wian se reis/Facebook)

Onderskeidings, universiteitsvrystelling en studieplanne klink soos die dinge waaroor ʼn doodgewone jong volwassene wat pas skool voltooi het homself sal kwel, maar vir Wian Badenhorst is dié mylpale niks minder as ʼn wonderwerk nie.

Wian het pas matriek aan Hoërskool Rustenburg voltooi en ten spyte van ʼn breingewas die grootte van ʼn gholfbal en talle breinoperasies, spog hy vandag met twee onderskeidings en toelating om later vanjaar argitektuur aan die Universiteit van die Witwatersrand te gaan studeer.

Toe Wian in 2014 op tienjarige ouderdom aan sy ma se deur klop met klagtes van ʼn hoofpyn, het Milandi Badenhorst nie in haar wildste drome gedink dat dit hulle lewens onherroeplik sou verander nie.

Dit was ʼn doodgewone skooldag. Waarom sou sy dink dat ʼn pilletjie nie die hoofpyn sou regsien nie?

Milandi was egter verbaas toe sy ʼn dag of wat later deur Wian se skool gebel word. Wian voel nie lekker, sy moet hom kom haal.

“Dit was die Vrydag,” onthou sy.

“Saterdag was dit erger. Hy het net bly lê.”

Teen Sondag is Wian in die hospitaal opgeneem met wat dokters vermoed het bosluiskoors was.

“Dit het slegter begin gaan. Die kopseer het erger geword, hy kon nie regop sit sonder om op te gooi nie, hy was lam en kon skaars loop,” onthou Milandi.

“Maandag kon ek sien hoe groot sy pupille geword het. Ek het begin wonder of daar nie dalk drukking op sy brein kan wees nie.”

Wian se dokter het Milandi se vermoedens gedeel en ʼn neurochirurg laat kom.

“En jy weet, dit was ʼn baie gewilde dokter in die dorp – mens het nie maklik ʼn afspraak by hom gekry nie. En daar was hy, in die hospitaal. Hy kon Wian sien.”

Die rekenaartomografie-skandering het nie net hul vermoedens bevestig nie – dit het die presiese oorsaak van Wian se kwale vasgestel. ʼn Gewas so groot soos ʼn gholfbal het op Wian se brein gesit. Die neurochirurg, dr. Percy Bezuidenhout, moes opereer.

“Ek het sy hande gevat en gevra of ek vir hom kan bid. Hierdie is my kind,” vertel Milandi bewoë.

“Hy het dadelik ingestem en gesê dat hy vir homself ook gaan bid. Wian het hom aan sy eie seuntjie herinner.”

Die operasie het nege uur geduur.

Wian en sy ma, Milandi. (Foto: Wian se reis/Facebook)

In daardie stadium was daar ʼn 80% kans dat Wian ernstige newe-effekte na die operasie kon oorhou. Milandi het haarself voorberei.

“Hy gaan by die teater uitgestoot word, heel moontlik aan ʼn ventilator gekoppel. Heel moontlik met sig-, spraak of gehoorprobleme.”

Dit het egter nie gebeur nie. Hy was wakker en het gereageer op hul stemme en aanraking.

Die gewas is hoofsaaklik verwyder en om drukking op sy brein te laat stabiliseer het die dokter vir hom ʼn pypie ingesit sodat die vloeistof van sy brein na sy maag omlei kon word.

Dit het 18 maande geduur om te herstel. Wian moes weer leer lees, skryf, loop en praat. Tog is hy ná ʼn kwartaal se tuisonderrig terug skool toe.

Hy was toe al onwrikbaar in sy geloof, vertel Milandi. Wian het nie een oomblik gekla nie.

Wian se terugslae

Toe begin hy weer sleg voel. Nog ʼn skandering. Die gewas, wat hulle geglo het stadig groeiend was, was terug en dié keer nog groter.

Wian moes terug gaan teater toe.

Wian in die hospitaal in 2018. (Foto: Wian se reis/Facebook)

“Ek was stukkend, my kind was stukkend. Hy het na my gekyk en gevra of hy nie maar eerder kan doodgaan nie. Ek het dadelik gesê dat dit nie ʼn opsie is nie, dat hy ʼn vegter is.”

Sy gesin, vriende, familie én vreemdelinge het vir hom gebid.

Iemand het selfs vir Milandi kom sê dat sy glo dat hulle Wian gaan oopsny en gaan sien dat daar nie ʼn gewas is nie.

En dit was so. Verbysterd het die dokter vir Milandi in kennis gestel dat hy Wian se skedel oopgemaak het net om ʼn leë kol te kry waar die gewas moes wees.

Hoewel daar dié keer nie ʼn gewas was om te verwyder nie, moes Wian weens die aard van die operasie weer fisioterapie ontvang en talle daaglikse aktiwiteite van vooraf leer doen.

“Dit het goed gegaan, maar 18 maande later het hy weer sleg begin voel. Die pypie was in die regte plek, ons kon nie verstaan waarom dit gebeur nie.”

Weer het hulle vir skanderings gegaan en weer is hul vermoedens bevestig: Wian, toe al in gr. 9, moes ʼn derde breinoperasie ondergaan. En dié keer was die gewas werklik terug en groter as ooit.

“Ongeag die risiko’s het ons besluit om die gewas aggressief te verwyder. Dit neem twee jaar om te herstel ná so ʼn operasie, en dit was al sy derde een.”

Milandi het alles probeer om Wian se gemoedstoestand te verbeter. Bekendes soos Sorina Erasmus en Bobby van Jaarsveld het selfs na Wian uitgereik met boodskappe van bemoediging en hoop.

Ná die operasie moes Wian bestraling ontvang om die stukkie gewas wat oorgebly het, te laat krimp.

Wian se oë is op die toekoms gerig

Ondanks elke terugslag, elke operasie en elke bestralingsessie het Wian sy oë op die toekoms gerig gehou. Nie eens probleme met sy omleidingspypie en ʼn uitdagende leerproses het hom van stryk gebring nie.

Wian het spesiale bestraling ontvang om die gewas te laat krimp. (Foto: Wian se reis/Facebook)

Hy wou sy droom om ʼn argitek te word bewaarheid. Hy het selfs sy gr. 10-jaar vrywillig herhaal, selfs al het hy geslaag, sodat hy kon seker maak dat sy grondslag reg is.

“Ek deel hierdie nuus omdat soveel mense al vir hom gebid het. Jy bid getrou, maar sien nie altyd die wonderwerke wat gebeur vanweë jou gebede nie.

  • Vir meer inligting oor Wian Badenhorst se reis, besoek hierdie Facebook-bladsy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

PETRO ·

Ken die familie baie goed, besondere verhaal van baie spesiale mense! God is groot!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.