Twee onwettige mynwerkers sterf ná rots glo op hulle val

mynTwee onwettige mynwerkers het in ʼn mynskag in Benoni, skaars twee kilometer vanwaar 25 onwettige mynwerkers sedert die naweek in Ekurhuleni in die Oos-Rand gered is, gesterf.

Zweli Dlamini, die burgemeester se woordvoerder van die Ekurhuleni-munisipaliteit, het gesê die twee mans is in ʼn afsonderlike voorval dood en was nie deel van die groep onwettige mynwerkers wat in die verlate skag in Benoni vasgekeer was nie.

Die liggaam van een van die onwettige myners is Dinsdag na die oppervlak gebring. Die ander man se liggaam is nog ondergronds. “Ander mynwerkers het self die man se liggaam na die oppervlakte gebring,” het Dlamini gesê.

Volgens Dlamini was die polisie en die departement van arbeid al sedert verlede week bewus van die twee liggame. “Nooddienste en reddingspanne is nie opdrag gegee om die twee liggame te verwyder nie. Omdat die mans klaar dood is, is dit ʼn misdaadtoneel wat eers deur die polisie ondersoek moet word. Daarna berus die onus op die betrokke myn, in samewerking met die departement van arbeid, om die liggame te verwyder,” het Dlamini gesê.

Dlamini het verdere navrae oor die verwydering van die liggame na die departement verwys. Die departement was nie vir kommentaar beskikbaar nie. Dit is ook nog nie duidelik hoe lank die twee mynwerkers dood is nie. Paul Ramaloko, ʼn woordvoerder van die Valke, het glo aan AFP gesê die mans is dood nadat ʼn groot rots op hulle geval het, en dat die ander man se liggaam steeds onder die rots vasgekeer is. -SAPA

Lees ook:
Onwettige mynwerkers gaan aangekla word
Talle onwettige mynwerkers gered
Onwettige mynwerkers steeds ondergronds vasgekeer
Honderde onwettige mynwerkers glo ondergronds vasgekeer

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.