Twee Oseane-wenner positief getoets vir verbode middel

Die Rus wat die vroueafdeling van die Twee Oseane-wedloop gewen het, het positief getoets vir die gebruik van ʼn verbode middel.

Die Suid-Afrikaanse Instituut vir Dwelmvrye Sport (Saids) het gister aangekondig dat Natalia Volgina (36) positief getoets het vir ʼn anaboliese steroïed. Khalid Galant, uitvoerende hoof van Saids, sê Volgina is op 30 Maart nadat sy die wedloop gewen het vir ʼn verbode middel getoets. Galant sê Volgina kan ʼn toets van haar B-monster versoek om vas te stel of die uitslag van die toets wat op haar A-monster gedoen is, korrek is. Volgina het die wedloop in drie uur, 38 minute en 38 sekondes gewen. Dit was haar tweede wen in die wedloop en haar eerste in die afgelope 11 jaar. Indien Volgina skuldig bevind word deur die Internasionale Vereniging van Atletiekfederasies kan sy vir twee jaar uit die sportsoort verban word en haar R250 000 prysgeld kwyt wees.

Dit kom kort nadat Ludwick Mamabolo, verlede jaar se Comrades-wenner wat positief getoets het vir ’n verbode stimulant, onskuldig bevind is omdat die verkeerde prosedure in die toetsproses gevolg is. Mamabolo het in Junie verlede jaar positief getoets vir die verbode stimulant metielheksaneamien kort nadat hy die eerste Suid-Afrikaner in sewe jaar geword het om die wedloop te wen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.