Twee polisiebeamptes en ʼn beweerde verkragter is in hegtenis geneem nadat laasgenoemde die beamptes glo omgekoop het.
Kapt. Paul Ramaloko, woordvoerder van die polisie, sê konstabels Thambo Hector Nsimbhini (39) en Ronny Gezani Baloyi (34) het Maandag saam met die beweerde verkragter in die Giyani-landdroshof in Limpopo verskyn. Die polisiebeamptes het op aanklag van korrupsie verskyn en die ander man op aanklag van verkragting, Al drie is op borgtog van R10 000 vrygelaat. Ramaloko sê die polisiebeamptes is in Desember na Giyani ontbied nadat ʼn 28-jarige man beweer het hy is deur sy 32-jarige kêrel verkrag. “Die polisie het die slagoffer glo oortuig om nie ʼn klag aanhangig te maak nie in ruil vir ʼn betaling van R9 000 deur die verdagte.” Die polisiebeamptes het saam met die besluldigde na ʼn OTM gegaan waar hy R9 000 onttrek het. “Die polisie het glo R3 000 aan die slagoffer gegee en die ander R6 000 tussen hulle gedeel.” Die verkragtingslagoffer het egter later die saak by die polisie aangemeld aangesien hy verwag het om die volle R9 000 te ontvang.