Twee polisiemanne in Kaapstad doodgeskiet

SAPDTwee polisiebeamptes is dood en ʼn ander gewond tydens ʼn skermutseling Woensdagaand in Kaapstad met vermeende rowers.

Lt.kol. André Traut, ʼn polisiewoordvoerder, het Donderdag gesê die beamptes het omstreeks 22:00 huise in die Siqala informele nedersetting in Philippi deursoek weens ʼn reeks gewapende rooftogte in die omgewing oor die afgelope tyd.

“Die beamptes het een van die plakkershuise betree toe ʼn onbekende hoeveelheid verdagtes uit die bloute op hulle losgebrand en die twee beamptes noodlottig gewond het,” het Traut gesê. “Die polisie het teruggeskiet en een van die rowers gewond. Hy is later in hegtenis geneem en die polisie het beslag gelê op ʼn 9mm-pistool.”

Die polisiebeampte wat gewond is, is na ʼn nabygeleë hospitaal gehaas en volgens Traut was hy Donderdag in ʼn stabiele toestand.

Traut het gesê die polisie vermoed daar was nog rowers in die aanval betrokke wat daarin kon slaag om te vlug.

Hy het gesê gewelddadige misdade teen polisiebeamptes word nie ligtelik opgeneem nie en die mense wat vir die skietery verantwoordelik was, kan hulself as “uiters gesoek” beskou.

Die bestuur van die polisie in die Wes-Kaap het hul medelye vir die gevalle beamptes se families en kollegas uitgespreek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.