‘n Nederlandse hof het Vrydag twee Somaliese seerowers tot onderskeidelik ses en sewe jaar tronkstraf gevonnis vir hulle rol in die ontvoering van twee Suid-Afrikaners in die Seychelle verlede jaar.
Regter Jacco Janssen het tydens die verhoor, wat in Rotterdam gehou is, gesê uitermatige geweld is gebruik gedurende die aanval. Omar Ali Abdallah (24) is sewe jaar tronkstraf opgelê terwyl Sadag Ali Ibrahim (20) ses jaar tronk toe moet gaan vir die aanval op die Suid-Afrikaanse seilskip. Drie ander mans, insluitend groep se 23-jarige leier, is almal tot tussen vier en ʼn half en vyf en ʼn half jaar tronkstraf opgelê. Die Suid-Afrikaanse paartjie wat verlede jaar ontvoer is, is Bruno Pelizzari en Debbie Calitz. Hulle word steeds deur Somaliese seerowers aangehou op ʼn onbekende bestemming. Die seerowers het glo vroeër ʼn tien miljoen dollar losprys geëis vir hulle vrylating.