Twee skuldig na moord op Pta-sakeman

Megan Engelbrecht kon nie gister in die hof wees toe twee mans skuldig bevind is aan die moord op haar pa Jan, wat vier jaar gelede voor haar doodgeskiet is nie, aangesien sy besig is met haar matriekeksamen.

Regter Bert Bam het Pleasure Mokoena en Lerato Mancidi skuldig bevind aan moord. Engelbrecht (45) is in September 2008 by sy huis in Booysens, Pretoria doodgeskiet. Engelbrecht, wat ʼn elektriese besigheid bedryf het en ʼn geesdriftige motorfietsryer was, is in die bors geskiet en is op die toneel dood. Mokoena en Mancidi is ook skuldig bevind aan poging tot moord op Engelbrecht se stiefseun Evan van der Merwe. ʼn Derde beskuldigde in die saak, Motsiri Ernest Masipa, is reeds verlede jaar skuldig bevind aan roof met verswarende omstandighede en is tot 15 jaar tronkstraf gevonnis. Megan (18) moes vroeër die week die moord op haar pa herleef toe sy teen Mokoena en Mancidi getuig het. Megan was nie gister by die hof vir die uitspraak nie aangesien sy besig is met haar matriekeksamen. Megan het Mokoena uitgewys as die man wat haar pa doodgeskiet het nadat ʼn groep mans by hulle huis ingebreek het. Sy het getuig dat haar pa haar uit die pad gestoot het voor hy doodgeskiet is. Haar pa het erg gebloei en sy het die bloeding met handdoeke probeer stop voor sy die polisie gebel het. Die saak duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.