Twee steeds vermis ná casino-wen

Carien Wilkens en James Viljoen

“Dit is nou ʼn week sedert my dogter vermis geraak het. Die onsekerheid maak my mal. Ek wens net ek weet waar my kind is.” Dit was die woorde van ʼn emosionele Rina du Plessis (40), ʼn ma van Sannieshof in Noordwes, nadat haar dogter en dié se vriend vermis geraak het.

Maroela Media het verlede week berig Carien Wilkins (20) en James Viljoen (28) van Schweizer-Reneke is verlede Maandagoggend die laaste keer op kringtelevisie gesien toe hulle Sun City omstreeks 03:10 in hul wit Geely verlaat het. Viljoen het tydens hul uitstappie R20 000 by die casino gewen. Hulle het glo Vrydag ook R15 000 by ʼn casino in Klerksdorp gewen. Die voertuig se registrasienommer is HBP 533 NW. Lees meer hier.

Volgens Du Plessis was haar dogter en Viljoen byna ’n jaar saam en sou hulle op 5 Januarie verloof geraak het. Wilkens het egter die verhouding beëindig, waarna Viljoen die Sun City-uitstappie beplan het om sake te probeer beredder.

Die twee se fone is sedert Sondag afgeskakel. Die voertuig het ook geen satellietopsporingstoestel in nie.

“Ons was Sondag saam met die polisie in ʼn helikopter om na hulle of hul voertuig te soek. Ons het ook die omliggende gebiede in ʼn privaatvliegtuig gefynkam, ” het Du Plessis Maandag aan Maroela Media gesê.

Verskeie vermiste persone-plakkate word ook wyd versprei. Du Plessis sê hulle volg elke wenk op. “’n Siener het gesê hulle word naby Pilanesberg as gyselaars aangehou. ’n Ander persoon het gesê hulle het van ’n krans afgery,” het Du Plessis bygevoeg.

ʼn Sondagkoerant het gister berig hulle verneem dat Viljoen, wat ʼn bestuurder van ʼn Engen-depot in Schweizer-Reneke is, glo tot verlede naweek gegun is om R350 000 op te spoor wat weggeraak het by die onderneming.

Sers. Philani Nkwalase, ʼn polisiewoordvoerder van Noordwes, het Maandag aan Maroela Media gesê hulle is nie bewus van dié beweringe nie en kan nie hieroor kommentaar lewer nie. “Ons kan wel bevestig ʼn vermiste persone-saak word ondersoek. Enigiemand met inligting oor waar hulle hul mag bevind, kan die Schweizer Reneke-polisie bel by 053 963 9100,” het Nkwalase gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.