Twee mense is in twee afsonderlike ongelukke buite Kimberley in die Noord-Kaap dood.
Werner Vermaak, woordvoerder van ER24, sê in die eerste voorval is die bestuurder van ʼn BMW dood nadat die motor Saterdagaand op die R356 omgeslaan het. Hy sê met paramedici se aankoms op die toneel het drie beseerde mense langs die omgeslaande motor gesit. Hulle het glo uit die wrak gekruip. Nog ʼn beseerde is sowat 15m van die wrak gevind. Die persoon is glo tydens die ongeluk uit die motor geslinger en het kritieke beserings opgedoen. Al die beseerdes is op die toneel behandel voor hulle na die Kimberley-hospitaal vervoer is vir verdere behandeling.
Vermaak sê in die tweede voorval is ʼn man dood en nog een ernstig beseer nadat hulle motor Sondagoggend op die R705 naby Jacobsdal omgeslaan het. Albei mans, glo in hul 30’s, is etlike meters van die motor af gevind. Een van die mans is op die toneel dood verklaar terwyl die ander man na die Kimberley-hospitaal vervoer is vir verdere behandeling.