In die eerste ongeluk is ʼn bestuurder van ʼn motorfiets dood en sy passasier beseer in Nellmapius in Pretoria. ’n Woordvoerder van Netcare911, Jeffrey Wicks, sê die bestuurder het glo vir ʼn voertuig uitgeswaai, beheer verloor en teen ʼn lamppaal gebots. Die bestuurder en sy passasier is van die motorfiets geslinger. Die bestuurder is op die toneel dood terwyl die passasier in ʼn ernstige toestand na ʼn nabygeleë hospitaal vervoer is vir verdere behandeling.
In nog ʼn voorval is die bestuurder van ʼn motorfiets dood nadat hy deur ʼn bus getref is op Maxwell-rylaan in Woodmead in Johannesburg. Wicks sê die bestuurders van die motorfiets en die bus het glo om ʼn sirkel gery toe die voorval plaasgevind het. Die bus het glo die motorfiets getref waarna die bestuurder geval en onder die bus beland het. Hy is op die toneel dood. Niemand anders is in die ongeluk beseer nie. Die polisie ondersoek albei voorvalle.