Twee sterf, talle beseer ná skoolbusongeluk

Foto: ER24

Twee mans is dood, twee kritiek en talle skoolkinders beseer nadat ʼn skoolbus Vrydag reg van voor met ʼn voertuig in Gauteng gebots het.

Volgens Vanessa Jackson, ʼn woordvoerder van ER24, het die ongeluk omstreeks 07:00 op die hoek van Black Reef- en Dekemaweg in Wadeville plaasgevind.

“Die skoolbus was vol skoolkinders tussen 4 en 14 jaar oud. Vier mense was in die ander voertuig, ʼn Volkswagen Polo,” het Jackson gesê. Die busbestuurder en 71 kinders het geringe beserings opgedoen. Slegs een meisie het matige beserings opgedoen. Almal is na nabygeleë hospitale geneem vir verdere ondersoek en behandeling.”

Twee passasiers van die Polo is uit die voertuig geslinger. Een van die passasiers is op die toneel dood verklaar en die ander kritiek beseer. ʼn Passasier, wat agter in die voertuig gesit het, is op slag dood en sy liggaam moes uit die wrak gesny word. Die bestuurder van die voertuig is ook kritiek beseer. Albei pasiënte is met ʼn ambulans na die naaste hospitaal gehaas vir verdere behandeling.

“Die kinders was almal in skoolklere en is van verskeie skole van die Germiston- en Primrose-omgewing,” het Jackson bygevoeg.

Dit is nog nie bekend wat die ongeluk veroorsaak het nie. Die ongeluk sal deur die polisie ondersoek word.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.