Twee van ‘Waterkloof-vier’ onder streng voorwaardes vrygelaat

Gert van Schalkwyk. Foto: SAPA

Reinach Tiedt. Foto: SAPA

Twee lede van die sogenaamde ‘Waterkloof-vier’ is Maandagmiddag onder streng voorwaardes op korrektiewe toesig vrygelaat.

ʼn Woordvoerder van die departement van korrektiewe dienste, Zacharia Modise, het bevtig dat Gert van Schalkwyk en Reinach Tiedt omstreeks 13:30 uit die Zonderwater-gevangenis in Cullinan vrygelaat is. Daar was die naweek hoogdrama nadat die Pretoria hooggeregshof beveel het dat die twee vrygelaat moet word en die departement geweier het. Die departement sê in ʼn verklaring hy het egter besluit om die hofbevel uit te voer. Van Schalkwyk en Tiedt is onder streng voorwaardes vrygelaat. Albei is onder huisarres en moet elke maand minstens 15 uur gemeenskapsdiens verrig. Hulle mag geen alkohol gebruik nie en moet weeksdae wanneer hulle werk tussen 18:00 en 7:00 tuis wees. Wanner hulle nie werk nie moet hulle van 13:00 tot 8:00 tuis wees. Tiedt moet as deel van sy gemeenskapsdiens die Transvaal Museum skoonmaak terwyl Van Schalkwyk sy gemeenskasdiens by die Bronkhorstspruit-polisiestasie moet verrig. Die departement sê intussen hy is besig om regsadvies in te win oor hoe om die saak verder te hanteer aangesien hy voel die twee moes nie vrygelaat word nie. Die twee mans se gesinne is intussen verheug oor hulle seuns wat vandag huis toe kom.

Van Schalkwyk en Tiedt was veronderstel om Donderdag vrygelaat te word ná ʼn aanbeveling van die paroolraad. Die DKD wou hulle egter nie vrylaat nie. Hulle regspan het Vrydag ʼn dringende aansoek voor die hooggeregshof gebring waar regter Eben Jordaan beslis het dat twee beamptes van die DKD skuldig is aan minagting van die hof aangesien hulle nie die mans wil vrylaat nie. Jordaan het gelas dat dié twee beamptes Januarie in die hof moet verskyn om te verduidelik hoekom hulle nie vir 30 dae moet tronk toe gaan nie. Die hof het verder gelas dat Van Schalkwyk en Tiedt vrygelaat moet word. Die DKD het egter steeds geweier om hulle vry te laat en het aangekondig dat hy teen die vrylating sal appelleer.

Van Schalkwyk, Tiedt, Frikkie du Preez en Christoff Bekker het in 2008 hul vonnis van 12 jaar tronkstraf begin uitdien nadat hulle vroeër skuldig bevind is aan die moord op ʼn hawelose man. Die voorval het reeds in 2001 plaasgevind. Du Preez en Bekker word in die Pretoria Sentraal gevangenis aangehou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.