Twee van ‘Waterkloof-vier’ vrygelaat

Reinach Tiedt. Foto: SAPA

Gert van Schalkwyk. Foto: SAPA

Twee lede van die sogenaamde ‘Waterkloof-vier’ is Maandagmiddag op korrektiewe toesig vrygelaat het ʼn woordvoerder van die departement van korrektiewe dienste bevestig.

Zacharia Modise sê Gert van Schalkwyk en Reinach Tiedt is omstreeks 13:30 uit die Zonderwater-gevangenis naby Cullinan vrygelaat. Hy sê die twee is eers na die gemeenskap korrektiewe-sentrum waar hulle gereeld sal moet aanmeld as deel van die voorwaardes van hulle vrylating. Modise sê die departement sal later ʼn verklaring uitreik in verband met die saak. Hy het volgehou dat die departement nie saamstem met die hofbevel dat die twee mans moet vrygelaat word nie.

Die aankondiging kom kort voor die regspan van die twee mans weer die Pretoria hooggeregshof sou nader om ʼn tweede aansoek in te dien nadat die departement vroeër geweier het om die mans vry te laat. Van Schalkwyk en Tiedt was veronderstel om Donderdag vrygelaat te word ná ʼn aanbeveling van die paroolraad. Die DKD wou hulle egter nie vrylaat nie. Hulle regspan het Vrydag ʼn dringende aansoek voor die hooggeregshof gebring waar regter Eben Jordaan beslis het dat twee beamptes van die DKD skuldig is aan minagting van die hof aangesien hulle nie die mans wil vrylaat nie. Jordaan het gelas dat dié twee beamptes Januarie in die hof moet verskyn om te verduidelik hoekom hulle nie vir 30 dae moet tronk toe gaan nie. Die hof het verder gelas dat Van Schalkwyk en Tiedt vrygelaat moet word. Die DKD het egter steeds geweier om hulle vry te laat en het aangekondig dat hy teen die vrylating sal appelleer.

Van Schalkwyk, Tiedt, Frikkie du Preez en Christoff Bekker het in 2008 hul vonnis van 12 jaar tronkstraf begin uitdien nadat hulle vroeër skuldig bevind is aan die moord op ʼn hawelose man. Die voorval het reeds in 2001 plaasgevind. Du Preez en Bekker word in die Pretoria Sentraal gevangenis aangehou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.