Twee vas na hulle renosterhoring steel

Twee plaaswerkers is Dinsdag in Lephalale in Limpopo in hegtenis geneem toe hulle glo ʼn renosterhoring probeer verkoop het wat hulle van hulle werkgewer gesteel het.

Brig. Hangwani Mulaudzi, woordvoerder van die polisie, sê die twee plaaswerkers, 31 en 35 jaar oud, het die horing van hul werkgewer gesteel terwyl hy op vakansie was waarna hulle dit aan ʼn polisiebeampte probeer verkoop het. Die polisiebeampte het hom as ʼn gewillige koper voorgedoen. “Die ‘geheime’ koper het versoek om die goedere te sien en toe hy daarmee tevrede was, het hulle op ʼn R200 000 betaling ooreengekom.” Mulaudzi sê die plaaswerkers is onwetend na ʼn polisiestasie gelei waar die transaksie sou plaasvind. Die mans is in hegtenis geneem en sal Woensdag in die Lephalale-landdroshof verskyn op aanklagte van diefstal en die onwettige besit van ʼn renosterhoring. Die mans se werkgewer het aan die polisie bevestig dat hy ʼn lisensie vir die renosterhoring het en dat dit sowat twee weke gelede gesteel is. Mulaudzi sê die horing is van ʼn renoster wat in 2011 dood is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.