Twee mans is in hegtenis geneem in verband met die moord op John Fraser, ʼn sakeman van Kuruman, wat in Julie vanjaar doodgeskiet is.
Lt. Olebogeng Tawana, ʼn polisiewoordvoerder, sê die twee mans het glo in Julie vanjaar by Fraser en sy vrou, Maria, se huis ingebreek. “John is in die bors geskiet en sy vrou het oorleef nadat sy in die skouer geskiet is.” Die mans het met ʼn onbekende bedrag kontant, selfone en ʼn vuurwapen gevlug. Tawana sê ʼn 24-jarige man is Dinsdag in hegtenis geneem terwyl die tweede verdagte Donderdag in hegtenis geneem is. Die verdagtes sal binnekort in die Kuruman-landdroshof verskyn op aanklag van moord, poging tot moord en roof.