Twee vas ná priester se moord

Die vermeende moordenaars van ʼn priester van die St. Peter Anglikaanse kerk in Butterworth in die Oos-Kaap het Maandag in die hof verskyn nadat hulle Vrydag in hegtenis geneem is. Een van die verdagtes is die priester se vrou.

Maroela Media het op 5 Augustus berig die priester se twee kinders het op 3 Augustus in die pastorie op hul pa se bebloede liggaam afgekom. Kaptein Jackson Manatha, ʼn polisiewoordvoerder, het destyds gesê die 46-jarige priester het verskeie steekwonde aan sy bolyf opgedoen. “Die kinders was saam hul ma en het omstreeks 22:00 teruggekom huis toe. Die ma was nog in die voertuig toe die kinders op hul pa afgekom het,” het Manatha gesê. Verskeie waardevolle items was steeds in die huis.

Manatha het Maandag gesê Lungiswa Xuba, priester Ongama Xuba se vrou, en Vuyo Mehlo, albei 40 jaar oud, word van dié moord aangekla. “Die verdagtes het Maandag vlugtig in die hof verskyn en moet volgende Woensdag terug in die hof wees vir ʼn formele borgtog aansoek. Hulle bly in die polisie se aanhouding tot dan,” het Manatha gesê.

Volgens Manatha is dit nog nie bekend wat die verwantskap tussen die twee verdagtes is nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.