Twee vas oor bedrog in Nelspruit

Bankkaartdupliseringstoestel

Twee mans wat mense glo wou beroof is Woensdag in ‘n winkelsentrum in Nelspruit deur die Valke in hegtenis geneem.

“Die paar het hulself Woensdag glo as bankbeamptes voorgedoen en by die OTM in die Matsulu-winkelsentrum, Nelspruit, Mpumalanga, gestaan. Hulle het glo aangebied om diegene wat wou geld trek, te help,” het kapt. Paul Ramaloko, woordvoerder van die Valke, gesê. “Na bewering het hulle die bankkaart van een persoon in die ry versoek. Een van die verdagtes het toe glo die kaart op ‘n kaartleestoestel dupliseer.”

“Mense in die ry het agterdogtig geraak en ‘n stryery het ontstaan,” het Ramaloko bygevoeg. Die polisie het by die toneel opgedaag en die mans van die ontstoke skare gered. Hulle is in hegtenis geneem en die polisie het beslag gelê op die toestel.

Die toestel dupliseer inligting glo onwettig van die magneetstrokie aan die agterkant van bankkaarte. Dit kan óf met die hand vasgehou word, óf aan ‘n OTM-masjien gekoppel word.

Die twee mans sal Vrydag in die Kabokweni-landdroshof verskyn op aanklag van bankkaartduplisering en bedrog.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.