Twee vas oor Kaapstad-geweld

Gewelddadige betogings in Kaapstad Foto; Nardus Engelbrecht/SAPA

Gewelddadige betogings in Kaapstad Foto; Nardus Engelbrecht/SAPA

Twee mans is in hegtenis geneem in verband met ‘n gewelddadige betoging in die middestad van Kaapstad, het die Wes-Kaapse polisie Donderdag gesê.

“Die mans is aangekla van die besit van gesteelde goedere en opsetlike saakbeskadiging,” het lt.kol. André Traut, woordvoerder van die polisie, gesê.

‘n Groep van ongeveer 3 500 mense het Woensdag in die middestad aan ‘n betoging oor swak dienslewering deelgeneem. Van die betogers het winkels en stalletjies geplunder en eiendom beskadig.

Traut sê sewe sake, wat openbare geweld en diefstal insluit, is by die polisie ingedien.

“Die operasionele ontplooiing van die Suid-Afrikaanse Polisiediens was onder die omstandighede voldoende om die situasie te hanteer, aangesien ons oortuig is dat ons taktiek gister verseker het dat die situasie onder beheer bly en verdere chaos voorkom het.”

Die Suid-Afrikaanse Kommuniste Party (SAKP) het gesê die media se fokus op die plundery het die aandag afgelei van die provinsiale regering se vermeende versuim om dienste te lewer. “Ons glo die optog was vreedsaam totdat dit vir ons mense duidelik geword het dat die DA-regering nie belangstel om na hul eise te luister nie,” het Benson Ngqentsu, distriksekretaris van die SAKP, gesê. “Nie een enkele mediahuis het berig dat ons mense langer as vyf ure vir [premier] Helen Zille gewag het nie.”

Patricia de Lille, burgemeester, het aangevoer die betoging is deur ANC-raadslid Loyiso Nkohla en geskorste ANC-raadslid Andile Lili gereël in ‘n poging om die stad en die provinsie onregeerbaar te maak. Sy sê die stad het al vantevore bewyse by die polisie ingedien wat dié twee aan gewelddadige betogings koppel. “Ek betoon my medelye aan die verkopers en winkeleienaars wie se besighede onder die plundery deurgeloop het,” het De Lille gesê. Sy moedig diegene aan wat hierdeur geraak is om klagtes te lê teen die organiseerders van die betoging.

Die stad sal kringtelevisiebeeldmateriaal beskikbaar stel om die oortreders te help uitken.

Intussen het die regering die gewelddadige betoging gekritiseer. “Skade aan eiendom en plundery tydens betogings sal nie geduld word nie,” het Phumla Williams, waarnemende hoof uitvoerende beampte van GCIS, gesê. “Alhoewel elke landsburger die reg het om te betoog, moet dit binne die beperkings van die wet geskied en nie indruis teen die regte van ander mense nie. Die implikasie van hierdie tipe kriminele gedrag het ‘n rimpeleffek op die lewens van die slagoffers.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.