Twee mans is Maandag in hegtenis geneem in verband met die moord op Daan Wybenga, ʼn afgetrede akademikus van Clarens in die Vrystaat.
“Die twee mans is Maandagoggend binne een uur in onderskeidelik Botshabelo en Bloemfontein aangekeer,” het sers. Majang Skalkie, woordvoerder van die polisie in die Vrystaat, gesê.
Wybenga (69) se liggaam is verlede week Maandag in die badkamer van sy huis in Clarens aangetref. Sy hande en bene was vasgebind. Skalkie sê die polisie vermoed hy is verwurg.
Die Volksblad-koerant het berig Wybenga was ʼn afgetrede professor van die Noordwes-Universiteit. Hy het alleen in Clarens gebly.
Wybenga se Toyota Corolla, selfoon en hoëtroustel is tydens die rooftog gesteel.
Die twee mans sal binnekort in die Bethlehem-landdroshof verskyn op aanklag van moord, huisroof en diefstal van ʼn motorvoertuig.
Die Noordwes-Universiteit sê wyle prof. Daan Wybenga was ‘n man met ‘n groot passie vir taal en sy medemens en het ‘n reuse bydrae tot die studie van Afrikaans in Suid-Afrika gemaak. Hy was van 1984 tot 1992 ‘n dosent in Afrikaans en Afrikaans-Nederlands aan die NWU se Vaaldriehoekkampus en daarna aan die Vista-Universiteit se Sebokengkampus tot sy vervroegde aftrede in 2003. Verskeie akademiese taalpublikasies het uit sy pen gevloei.
-SAPA
Lees ook:
Clarens-bejaarde dood aangetref
Die feit dat hulle so gou aangekeer word wys maar net weer hoe seker hulle ‘n “kamer” wil bespreek in die 5 ster hotel wat beter omstandighede bied as wat tans die geval is! Ek is seker as daardie 2 nou moet hoor dat die galg terug is, beskuit hulle, hulle so dat hulle daarin verdrink!!!