Twee vas vir gewapende roof in Gauteng

Twee mans is Dinsdag in hegtenis geneem ná ʼn gewapende roof in Bronkhorstspruit, oos van Pretoria.

Volgens kapt. Pinky Tsinyane, ʼn polisiewoordvoerder, het drie gewapende rowers ʼn vragmotorbestuurder en helper met ʼn geweer aangehou toe hulle ʼn vrag sigarette by ʼn winkel in Mothibestraat in Rethabiseng afgelaai het.

“Die verdagtes het bokse sigarette gesteel en met ʼn silwer Daihatsu Terios gevlug,” het Tsinyane gesê.

Veiligheidswagte het die voertuig gejaag, en ʼn oor-en-weer-skietery het uitgebreek. Die bestuurder van die Terios het beheer oor die voertuig verloor en ʼn plakkershuis getref. “Die eienaar van die plakkershuis, sy vrou en hul ses maandeoue baba het tydens die voorval geslaap. Hulle is gelukkig ongedeerd.”

Die polisie het beslag gelê op sigarette met ʼn geraamde waarde van R300 000.

Twee mans is op die toneel in hegtenis geneem, een het daarin geslaag om weg te kom. Die ondersoek duur voort.

Sapa

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.