Twee vas vir moord op JHB-tiener

Twee mans is Woensdag in hegtenis geneem in verband met die moord op ʼn 15-jarige meisie van Johannesburg. Maroela Media het Dinsdag berig die liggaam van Lungile Kubeka is Maandagoggend in ʼn erf in Snakepark in Soweto aangetref. Die polisie vermoed dat sy verkrag en toe verwurg is. Daar was geen ander oop wonde aan haar liggaam nie.

Ao. Kay Makhubela, ʼn polisiewoordvoerder, het Donderdag gesê die twee verdagtes, albei 23 jaar oud, is omstreeks 04:00 in hegtenis geneem in ʼn kamer wat hulle by ʼn sangoma in Zola gehuur het.

“Die polisie het inligting ontvang dat vier verdagtes wat met haar moord verband hou daar bly. Twee verdagtes kon daarin slaag om deur ʼn venster te ontsnap,” het Makhubela gesê.

“ʼn Voertuig wat op die toneel gesien is waar die meisie se liggaam Maandag gevind is, is op dié perseel aangetref. ʼn Geweer wat verbind kan word met ʼn rooftog in Randfontein, televisies, horlosies, selfone en verskeie elektriese toestelle is in die kamer gevind.”

Die twee verdagtes moet Maandag in die Protea-landdroshof verskyn op aanklagte van moord, die besit van ʼn ongelisensieerde vuurwapen en die besit van gesteelde goedere.

Die polisie is nog op soek na die ander twee verdagtes.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.