Twee mense, waaronder ʼn voormalige werknemer van die Nasionale Vervolgingsgesag, is Vrydag in Pretoria en die Wes-Kaap in hegtenis geneem vir beweerde tenderbedrog.
ʼn Polisiewoordvoerder, lt kol Tshishikhawe Ndou, sê die twee verdagtes was glo betrokke by bedrog waar ʼn tender van R13 miljoen toegeken is vir veiligheidsbewaking en ander spesiale dienste by die Nasionale Vervolgingsgesag se kantore in KwaZulu-Natal gedurende 2006. Die kontrak is in 2009 gekanselleer. Ndou sê een van die verdagtes is ʼn voormalige werknemer van die Nasionale Vervolgingsgesag wat veiligheid en risiko’s geëvalueer het. Die twee, onderskeidelik 33 en 41 jaar oud, word aangekla van bedrog en korrupsie en sal Maandag in die Pretoria landdroshof verskyn. Ndou sê hulle hoop om binnekort nog inhegtenisnemings te maak.