Twee vas vir “Swart dollar”-slenter

Argieffoto

Twee uitlanders is Dinsdag in Kaapstad in hegtenis geneem omdat hulle vermoedelik ʼn sogenaamde “swart dollar”-slenter bedryf het.

“ʼn Man het by die polisie ʼn klagte aanhangig gemaak nadat hy kontant aan drie Kongolese mans oorhandig het. Die mans het beweer hulle kan aan hom baie dollar in ruil daarvoor verskaf,” het kapt. Frederick van Wyk gesê.

Die verdagtes het aan die slagoffer stukke papier gegee wat swart gekleur is. Die verdagtes het aangevoer die “dollars” is swart gekleur sodat doeanebeamptes dit nie kon opspoor nie. Hulle het gesê hulle benodig sy geld om chemikalieë te gaan koop om die “dollars” te was om die swart kleur te verwyder. Die verdagtes het met die slagoffer se geld verdwyn.

Die polisie het later twee verdagtes in Maitland vasgetrek. Soortgelyke papier, wat in die slenter gebruik word, is in hul besit gevind.

Die mans, onderskeidelik 28 en 41 jaar oud, is in hegtenis geneem en moet Donderdag in die Kaapstadse landdroshof verskyn op aanklagte van bedrog. Die derde verdagte is nog op vrye voet.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.